Helena Hettema is ‘n gevierde kabaretkunstenaar, aktrise, liedjieskywer, stemkunstenaar en digter. Sy verwerf ‘n dramagraad by Tukkies en is een van vyf dramastudente wat landwyd gekies word om by die destydse TRUK in die Pretoria Staatsteater aan te sluit. Vroeg in haar loopbaan, is sy die jongste lid van Anton Goosen se alternatiewe musiekgroep, Die Kommissie van Ondersoek. Sy skryf en sing die temalied vir die gewilde Sonkring TV-reeks en haar stem en verhoogkuns neem haar na Londen, Nederland, België, Italië, Nieu-Seeland en Turkye. Sy sing in Afrikaans, Engels, Frans, Nederlands en Italiaans, en het reeds 13 CDs en twee DVDs uitgereik. Sy word ook met twee Sama- en twee Afri-Indie-toekennings bekroon.Journeyman – A Poet Revealed/ ‘n Digter Ontbloot, wat einde verlede jaar bekendgestel is, is Helena se eerste boek. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek, geïllustreer met kunswerke en foto’s wat gedigte, liedjies en outobiografiese prosa begelei.